Aan Almal wat hier lees, my diepste groet en wens dat dit goed gaan! Hier is ons Sondag boodskap:
https://youtu.be/w-ieas9vlc0

En vir die wat kan (en wil) sluit gerus vanmiddag om 16:30 op Zoom by ons aan vir saamgesels.

Philip & Abel are inviting you to a scheduled Zoom meeting, join at
https://us02web.zoom.us/j/8018374279?pwd=R1AxS3g4OEovQ1B5QlZFVUZOaW1KZz09
Meeting ID:  801 837 4279
Password:  263130

ABELRubriek: Een werklikheid

Is dit nie interessant om te sien hoe mense hulle werklikheid in twee probeer sny nie – ‘n natuurlike en ‘n geestelike / bonatuurlike werklikheid. En ongelukkig het meeste godsdienste die opsie van hierdie dualiteit gekies, en daarmee hulle volgelinge geleer om iets buite die natuurlike, elke dag lewe te gaan soek as waarheid.

So het miljoene mense deur die eeue heen eerder antwoorde en oplossings vir hulle probleme binne die bonatuurlike geesteswêreld gaan soek, as binne hulle normale elke dag bestaan. Sekerlik daarom dat so baie godsdienstige mense vandag nog sulke wêreldvreemde dinge kan sê wanneer iemand siek is, of soos nou met pandemie gebeur. So asof siekte, die pandemie en selfs die dood nie ‘n natuurlike deel van elke lewende wese se bestaan is nie.

“Siekte is straf op sonde”, “Glo net en God sal jou kanker genees”, “Bid en glo en persoon X (iemand wat dalk al ‘n baie hoë ouderdom bereik het) sal gespaar word en nie sterwe nie…”, “COVID-19 is God se straf op mense se ongehoorsaamheid”, “As jy glo kan iemand uit die dood opstaan…” ens.

En hiermee saam glo godsdienstige mense dat daar ‘n hiernamaals is; hemel en hel of reïnkarnasie. Beide menslike konstrukte om te sê dat die dood nie finaal is nie. En so ontstaan die konstrukte van siel en liggaam.

Dualiteit: God en mens, hemel en hel, siel en liggaam, binne en buite, boos en heilig.

Gelukkig is dit nie die enigste verstaan nie, en alhoewel baie gelowiges vandag nog in bogenoemde dualiteit vasgevang leef, is daar ook ‘n ander kant.

Hierdie kant loop deur die Romantiese mistiek van die 19de eeu. In hierdie tyd was daar ‘n agnostiese poging om die kloof tussen die mens en God te oorbrug deur ‘n teruggrype na die Oosterse verstaan van God, veral soos dit voorkom in die Taoïsme.

Hierin word God meer beskryf as ‘n tipe lewens-energie, ‘n weg wat jou ontwyk die oomblik as jy dit ‘n naam probeer gee. Iets wat is, iets naby en natuurlik. En slegs wanneer jy jouself is, volledig mens (natuurlik), volledig teenwoordig, kan jy iets daarvan beleef.

Met ander woorde, God is nie bonatuurlik of transendent nie. Nee, die goddelike is volledig aards, natuurlik en teenwoordig. Dit wat in die Thomas-evangelie so mooi verwoord word: “Die koninkryk van God is oor die hele aarde uitgesprei en tog sien mense dit nie.”

Die goddelike is dus te vind in die hier en nou, in die elke dag lewe. Dit laat my dadelik aan Khalil Gibran se woorde dink: “Your daily life is your temple and your religion. Whenever you enter into it, take with you your all.” Want net soos Gibran, dink ek ook dat God of die goddelike, nie in ‘n ander-wêreldse of bonatuurlike te vind is nie – dit is om op die verkeerde plek te soek.

Miskien is die goddelike, soos ons in die Boeddhisme en Taoïsme leer, veel nader as wat ons kan dink of beredeneer. Miskien is God nou besig om te fluister, miskien is God nou besig om te luister. Miskien is God veel meer as wat jou self-geskepte en beperkte prentjies van hom of haar ooit kan wees. Miskien is die woord God misleidend, dalk is Alles, Liefde of die groot Misterie beter.

Ek wonder of dit nie eintlik is wat Jesus probeer sê het nie. Hierin help filosowe soos Friedrich Nietzsche ons ook baie. Hy het ook probeer om mense bewus te maak dat God nie gesoek moet word in mensgemaakte idees nie, maar dat as jy God wou vind jy op ‘n nuwe manier moes begin dink en wonder.

Hy doen dit nou wel op ‘n kras manier met sy bekende “God is dood” uitspraak. Maar hy sê juis hierdeur dat God nie buite iewers, in die bonatuurlike te vind is nie. ‘n Idee wat algaande deur filosowe en digters geformuleer is as ‘n mistieke godheid wat nie bonatuurlik of transendent hoef te wees nie. ‘n God wat deel is van ons, binne en naby.

Dalk die bron, kern van alles. Hierdie nuwe denke is nie net deur filosowe bedink nie, nee, ook teoloë soos Paul Tillich het begin argumenteer dat ‘n teïstiese (God buite ons, ‘n wese op ‘n troon) en persoonlike god ‘n gevaarlike idee is, wat sal moes sterf.

Ander filosowe en denkers het hierby aangesluit soos Schopenhauer en Hegel wat albei gesê het God kan dalk eerder in die mens se elkedag doen en late gevind word as in iets bonatuurliks of werklikheidsvreemd. Klink amper soos die antieke mense se mitiese verhale wat ook maar net wou sê die goddelike is hier en naby.

In een so ‘n antieke geskrif, die Thomas-evangelie, ‘n boek wat deur sommige geleerdes so vroeg as omstreeks 50 nC gedateer word, kom Jesus en sê die volgende: “Laat hy wat soek nie ophou soek tot hy gevind het nie. En as hy vind, sal hy verontrus word en as hy verontrus is, sal hy hom verwonder en hy sal oor die Alles heers en rus vind.”

In die Thomas-evangelie is dit duidelik dat die weg ‘n innerlike weg is. Dus as Jesus hier sê soek, praat hy van soek binne en vind dus ook binne. En wat sal jy binne vind? Jou onlosmaaklike deel van Alles. Jy en God en die lewe is Een. Alles is een.

Dit maak vir my veel meer sin om op hierdie manier oor God en die werklikheid van die lewe te dink. Om die nuwe ontdekkings in die wetenskap, evolusie, filosofie en teologie by my verstaan te integreer en daarop te kan bou.

En so sal ons die goddelike vandag weer kan herontdek, opnuut ervaar, en so in die klein en die groot krisisse van ons lewens weer sin vind. Vir elke mens kan dit iets anders wees.

En só begin ons reageer, nie op ‘n bonatuurlike, ver weg en antieke God nie, maar op dié goddelike wat elke dag binne ons koppe, verhoudings en lewe leef.

En kan ons die werklikheid eerliker, genadiger en vryer maak. En dit laat ons God weer op ‘n nuwe manier tussen ons gebeur. En hopelik sal generasies na ons, ons mites, verhale, poësie oor ons huidige verstaan van God kan gebruik om weer hulle te help, met hulle eietydse soeke.

Abel Pienaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui