September 2004 het Ds. Gert Janse van Rensburg en Dr. Flip Schutte (beide Hervormde Kerk predikante) Renaissance Pretoria begin. Gert vertel hoe daar aanvanklik gesoek is na ‘n geskikte bymekaarkomplek en hoe Safari Kapel uiteindelik gevind is.

“Elke hol plek met ‘n dak op in Pretoria het ek na toe gery en by gaan aanklop. Op ‘n dag, na weke se soek sonder enige sukses ry ek verby Safari Kwekery en my ma se woorde kom by my op: “Iemand het vertel Safari het ‘n Kapel gebou – gaan hoor bietjie daar of dit beskikbaar is.” Ek het niks gehad om te verloor nie en het ingedraai. 

Die restaurant gaan opsoek en die verantwoordelike persoon opgespoor. “Enige tyd, ons het die Kapel en niemand gebruik dit Sondae nie!” was die mooiste woorde wat ek in ‘n lang tyd gehoor het. So het ons verbintenis met Safari begin.”

Dit was ‘n groot waagkans, ‘n sprong in die duister, maar so het Renaissance begin met sy dienste op die eerste Sondag in September 2004. Gert vertel weer van daai begin dae: “Vriende en familie, ‘n advertensie op RSG teen duisende rande wat amper niks opgelewer het nie, ‘n opmerking op RSG se Sondagoggend kerknuus en sowat 60 mense daag by die Kapel op. Die diens het begin met stilte, mooi musiek en ons eerste boodskap. Die Sondag daarna met baie minder mense het Flip Schutte sy beurt waargeneem en die lang pad het begin. Van ‘n skamele 20 mense per Sondag, so min dat ons in die winter van 2005 die stoele onder die galery omgedraai het sodat almal verplig was om voor naby mekaar te sit vir bietjie hitte en ‘n voller gevoel.”

In April 2006 het Dr. Flip Schutte weggegaan en in sy plek het Dr. Abel Pienaar (NG Kerk predikant) bygekom. Eers het Abel die aanddienste waargeneem en Gert die oggenddienste. Die gemeenskap het stadig maar seker begin groei en dinge het beter begin lyk. Abel en Gert het van 2006 tot Augustus 2012 saamgewerk. Tydens hierdie tyd het Renaissance ‘n tweede gemeenskap begin (2008) in die Wes-Kaap, Durbanville. Ds. Terblanche Jordaan is aangestel en later het Ds. Bertus van Niekerk by hom oorgeneem. Terug in Pretoria het Gert ‘n beroep na die United Church of Canada aanvaar en hy bedank vroeg Augustus 2012 by Renaissance. Dr. Flip Schutte se posisie het dus weer oopgegaan en Renaissance kon hom en Dr. Piet Muller op 1 September 2012 amptelik aanstel as deel van die nuwe bedieningspan saam met Abel.

Na die afsterwe van Abel Pienaar op 1 Julie 2021 het Philip Liebenberg die leisels oorgeneem. Abel het diep spore getrap en sy nalatenskap leef voort in elke hart wat deur hom aangeraak is. Dit is met ‘n knop in die keel dat Renaissance die werk sonder hom voortsit, maar met die wete dat die wysheid wat hy in ons midde gelaat het, altyd met ons sal wees.

Vandag bestaan Renaissance as ‘n baken van hoop en oop denke. ‘n Plek waar jy veilig is omdat dit die plek is waar elkeen wil veilig wees.

Renaissance is ‘n ruimte waar mense toon hoe hulle die nuwere inligting oor die heelal, die aarde en lewe op aarde integreer met die nuwere inligting oor die Bybel, Jesus van Nasaret, die Christelike godsdiens, ander godsdienste en filosofieë. Kortliks gestel – dis ‘n ruimte vir kreatiewe vrydenkers, oop soekers en spirituele mense wat nie skaam is om oor hulle soeke na sin te praat nie. Ons aanvaar dat ons almal reisigers is wat besig is om ons eie lewensreis te voltooi. Reisigers wat dikwels moeg word en dan nodig het om by ‘n oase aan te doen om asem te skep, hulle dors te les en weer inspirasie te vind, voordat hulle verder kan reis. Renaissance is bedoel om so ‘n oase te wees.

Philip stel homself beskikbaar vir persoonlike gesprekke oor ‘n koppie koffie op Donderdae. Kontak hom gerus by 082 468 1545.

Kom reis saam!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui