Renaissancers
Daar het reeds tien maande verloop sedert die dag waarop die skielike en tragiese afsterwe van Abel Renaissance se reisigers by ‘n nuwe hawe laat aandoen en vasmeer het. Hoewel Renaissancers reisigers is, en Renaissance ‘n vaartuig, was hierdie hawe nie deel van die reisplan nie. Ons tuig het onverwags tot stilstand gekom met die dood van ons kaptein. Anders as met beplande stilhouplekke, het hierdie hawe saam met die skok, verlies en hartseer ook onsekerheid oor die toekoms van die skip meegebring. Renaissance was in rou gestol.
Die maande wat op die aandoen by daardie hawe gevolg het was gekenmerk deur ‘n mengsel van rou oor Abel, vrae oor die toekoms van Renaissance en die hoop dat ons daarin sal kan slaag om verder te vaar en aan reisigers nuwe ervarings op die skip te bied. Nuwe uitkykpunte vanaf die dek. Nuwe vaarwaters.
Met die woorde van ons afgestorwe kaptein nog helderluidend in ons ore, “Alles verander, niks bly ooit dieselfde nie”, het ons stadig maar seker begin om die skip gereed te kry om verder te vaar. Terwyl ons dikwels weemoedig terugkyk na dit wat was, hoor ons hoe die skip se kiel die waters begin kloof.
Ons vaar weer.
Ons reis voort om nuwe uitkykpunte te verken terwyl ons nooit dit wat ons by voriges ervaar het sal vergeet nie. Die reis beloof om ons verder te verryk en verruim.
As die nuwe kaptein wat onverwags van die Johannesburg boot moes oorklim na die groter skip, is ek dankbaar vir die tyd wat ek sedert Augustus 2019 saam met Abel en die dagbestuur beleef het. Dit het gemaak dat ek nie heeltemal vreemd gevoel het nie.
Vyf dae voordat Abel siek geword het, het hy op my verjaardag vir my ‘n stemboodskap gelaat terwyl ek en Johan in ‘n vliegtuig oppad Durban toe was. Daarin het hy sy frustrasie met die inperking uitgespreek en gesê dat hy uitsien na meer normale omstandighede. Hy het ook gevra dat ek hom moet help met die bemarking van sy nuwe boek deur middel van Zoom besprekings. Hoe sou ek of hy kon raai dat hy vyf dae later sou skryf: “My vriend, ek word opgeneem. Covid het my. Jy moet asseblief waarneem totdat ek gesond is.” Ons almal het saam gewag dat Abel gesond word. Niemand was daarop voorbereid dat ons twee weke later in ‘n hawe sou vasmeer waar die skip van sy kaptein moes afskeid neem nie.
Om hande om die stuur te vou was beslis nie maklik nie. Ons moes rowwe waters saam navigeer. Aan die een kant het ons almal oor Abel getreur en aan die ander kant moes ons seker maak dat ons die voortbestaan van Renaissance ‘n prioriteit maak. Ons moes ook besin oor wie die skip sou stuur. Omdat ek sedert 2019 reeds deel was van die leierskap en dagbestuur het hulle gevra dat ek tydelik die leisels hou. Tydelik het permanent geword toe hulle my later vra of ek dit sal oorweeg om die leier van Renaissance te word. Met die volle wete dat dit nie ‘n maklike taak gaan wees nie, het ek ingestem. So word ek toe die leier van ‘n gemeenskap wat in diepe rou gedompel was en geensins daarvoor gereed was om ‘n ander kaptein aan boord te verwelkom nie. Ek was tegelyk leier en indringer. Die taak sou appél maak op my sensitiwiteit vir die hartseer oor Abel en terselfdertyd van my vra om opgewondenheid oor die toekoms van die skip by die reisigers te wek. Dit is egter baie moeilik om ‘n rouproses met opwinding te meng. Dit is eweneens moeilik om te lei terwyl jy weet mense verlang met ‘n diep seer na die vorige leier – ‘n verlange wat veel erger is as wanneer iemand bloot weg is. Abel was dood. Baie skielik en onverwags. Dit was ‘n skok sowel as ‘n verlies. Renaissance was getraumatiseer.
Dit is steeds met volle begrip vir die terugverlang dat ek met my hande op die stuurwiel van hierdie besondere skip staan. Ek wil daarom vir elkeen van julle dankie sê vir die wyse waarop julle wel julle harte oopgemaak het vir my en daarmee saam vir die verder-vaar in nuwe waters na nuwe hawens en uitkykpunte.
Tans stuur ek die skip wat Sondae se praatjies betref, alleen. Dit gee aan my die geleentheid om my voete behoorlik te vind, en aan julle die geleentheid om my stem en hart goed te leer ken. My hart klop ‘n baie aardse spiritualiteit.
Ek verwys julle graag na een van Abel se insigte: Die fout wat mense dikwels maak deur spiritualiteit van die alledaagse lewe te skei. Ek is dit met hom eens. Vir my is die ganse lewe spiritueel en is dit belangriker om spiritualiteit eenvoudig te leef as om verwikkeld daaroor te praat. Ek het ‘n voorliefde daarvoor om intellektuele diskoerse te vereenvoudig en praktiese toepassings te soek en om die vaarwaters van gesprekke altyd af te wissel met aan-wal-gaan om vingers in die grond te steek.
Besoek ook gerus die skakels na ons Facebook blad en Instagram profiel op die webtuiste. Volg ook asseblief ons nuwe Youtube kanaal.
Na tien maande en baie koppies koffie kan ek uit my hart sê dat ek lief word vir Renaissance. Dit is ‘n voorreg om vir julle te werk en ek is die dagbestuur baie dank verskuldig vir die warmte, passie en lojaliteit wat ek sedert my eerste oomblikke aan die stuur beleef. Ons is ‘n span met geesdrif.
Dankie aan:
Bertus, ‘n wonderlike voorsitter, en die man wat die sake-sy van ons gemeenskap so goed bestuur.
Annette, die moeder op ons dagbestuur. Dankie vir jou rustigheid wat telkens wanneer jy vir ons lees in jou fluweel stem om ons vou.
Alma, ons tesourier, asook die bemarking brein. Sy is dinamies en vol siel.
Dankie aan Pieter en Neels wat die span lei wat Sondae om agtuur begin om die kapel vir die diens gereed te maak. Daarmee saam almal wat die donasies opneem, tel en in die bankrekening oorbetaal.
Dan ook ‘n dawerende applous aan Jannie en die musici, vir die beste musiek waarvoor enige gemeenskap kan vra.
Baie dankie aan almal wat die dienste op Sondae kom ophelder met saamwees, saam luister, stilwees en gesêlskap. Die koffie agterna is ‘n verdere hoogtepunt.
Aan elke Renaissancer buite Pretoria wat ons op Youtube volg en via die netwerke met ons kommunikeer, baie dankie vir julle deelname.
Renaissancers, laastens wil ons as dagbestuur saam baie dankie sê aan almal wat deel is van ons gemeenskap. Ons wil julle ook nooi om julle insette te lewer en aan te meld indien daar iets is waarby julle graag prakties wil betrokke raak. Hierdie skip is groot en ons kan doen met elke takelaar wat wil help om seile te span.
Ons boot is sterk oppad en dis nie kammaland waarheen ons oppad is nie, maar eilande met rusplekke en stapplekke en staanplekke vanwaar ‘n mens verder kan kyk as net die vaarwaters onder ons.
Ek groet julle met vrede.
Philip

Liewe Philip, Ek het soveel waardering vir jou as mens en as kaptein van die Renaissance skip. Ons het voorwaar die “Abel-leemte” beleef, maar jou besonderse manier met mense, met individue, het ons weer op koers gebring. Ons sal altyd vir Abel onthou, maar ons het nou weer moed. Die velskoene begin gemaklik sit en die stofpad bring ons by opwindende sowel as uitdagende plekke. Met so ‘n leier kan ek selfs vanuit die Kaap, steeds voel dat ek deel van Renaissance is. Baie dankie aan almal wat dit moontlik maak.
René, dat jy daar vanuit jou mooi Kaapse kusdorp steeds met ons mee-reis is so lekker. Dankie vir jou mooi woorde en ook dat jy moeite gedoen het om ‘n koppie koffie saam met my te drink toe jy onlangs hier was. Liefde en mooi loop op die strand!