Meer oor Renaissance
By Renaissance wil ons die pad van verkenning stap. Daar word uit vele filosofieë en wetenskaplike bronne geput. Ons besef dat elke individu sy of haar opvoeding en ervaring met hulle saamdra en as verwysingspunt gebruik wanneer hulle kommunikeer. Ons luister dus na mekaar en ag niemand se insigte as imperatief nie, maar eerder as aanvullend, met inagneming van waar hulle hul op hul reis bevind.
Omdat Renaissance ‘n familie van oop, denkende en eerlike reisigers is, is dit vir ons belangrik om gereeld met mekaar te praat. Ons skram nie daarvan weg om moeilike sake onder die loep te neem ten einde saam te groei nie. Ons verwag nie eenparigheid nie, maar streef na dialoog waarbinne respek, ‘n oop gemoed en egtheid die weg baan tot nuwe moontlikhede

Dit beteken natuurlik dat ons nooit finale antwoorde kan hê nie, want ontdekking en groei voorveronderstel mekaar. Daarom wil Renaissance ‘n veilige ruimte wees vir mense wat verken. Ons weet dat daar in alle tradisies waarheid te vinde is, daarom poog ons om ons ontginnings daaruit met eerbied en respek te doen – op soek na dit wat universeel en vir ons van waarde is.
Ons waardes word gekenmerk deur openheid, egtheid, liefde en nederigheid, en, bowenal, om nie te veroordeel nie.

Philip Liebenberg se gedig, DANS LIG, verklank dit verder.
DANS LIG
Moenie te swaar aan die godeverhale dra nie;
in die mite se skadu’s skuil slegs ‘n flou ligstraal.
Moenie die wetenskap as al wat is beskou nie;
in feite se koue logika bly mens steeds skaars meer as droom.
Moenie in filosofie met krampende greep na sin gryp nie
want in vrae sonder einde, verloor ons ons lag.
Moet jou bestaan nie met ‘n oormaat erns óórpeins nie
want jy is ‘n tydelike druppel in ‘n vinnig vloeiende stroom.
Dans teen die lewe met vlugtige voete aan;
laat dit jou hart in sy koesterende arms vang.
Laat die lag van ‘n kind en die glinsterende ogies van ‘n diertjie
uit jou eie blik ‘n vonkel lok,
en die brood op jou tafel jou tong met lemoenmarmelade se soet-suur geur vir meer daarvan terg.
Skryf jou eie storie met sorg,
vlek dit met skadu’s én verruim dit met lig.
Neem waar moontlik ander se stories ernstig op.
Hou jou gedagtes oor die lewe lig, maar gee dit gewig.
Neem én gee.
Weet dat die antwoord in die onsigbare koord
tussen jou en Alles
lê.
Philip Liebenberg © 2024 kopiereg voorbehou
