Die Sewe kern vertrekpunte van Renaissance

Die volgende vertrekpunte skep die veilige ruimte waarbinne Renaissance funksioneer. Dit is gewis nie die enigste vertrekpunte nie, maar opsommend bied dit ‘n goeie rigtingwyser.

Vertrekpunt 1

Ons staan in verwondering en eerbied voor ‘n groot en onpeilbare Geheim wat sommige God, die Goddelike, ‘n Hoër Mag, Misterie, die Transendente, ensovoorts, noem, nie bevatlik in enige mensewoord of -formule nie. Daar is ook diegene wat die Geheim nie aan ‘n godheid verbind nie, maar doodgewoon erken dat ons nie al die geheimenisse ken rakende die heelal en sy ontstaan nie.

Ons voorneme is dus om nooit ‘n afgod te maak van enige leerstelling aangaande die goddelike nie. Ons streef daarna om oop en verdraagsaam te wees teenoor alle religieuse-, sekulêre-, filosofiese- en wetenskaplike tradisies.

Vertrekpunt 2

Ons aanvaar die solidariteit met alle lewende wesens. Daarom het ons ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar, die natuur en ons omgewing.

Ons voorneme is om ons medemens te help in tye van nood en rampe en om vir die minderbevoorregtes, swakkes en weerloses te sorg en in die bres te tree, asook die behoud en versorging van diere, plante en hulpbronne.

Vertrekpunt 3

Ons is oortuig van die ewewaardigheid en intrinsieke gelykheid van almal: geslagte, generasies, rasse, ensovoorts. Elkeen beskik oor ‘n eie kundigheid, gawes en persoonlikheid, en geeneen is superieur nie. Diversiteit dra by tot ons oorlewing.

Ons voorneme is dus om nie in engheid aan ons huidige uitgangspunte verkleef te bly nie. Ons leef in waardering vir die Bybel, Tao Te Ching, Dhammapada en ander antieke godsdienstige geskrifte. Maar soos enige menslike kennis en insig tydsgebonde en voorlopig is, is religieuse oortuigings insgelyks voorlopig, gebrekkig en nie gesaghebbend nie.

Vertrekpunt 4

Ons leef in hierdie wêreld, ons leef eietyds en ons streef daarna om sin aan ons bestaan te gee deur ‘n eietydse spiritualiteit wat oop, krities-waarderend en samewerkend is t.o.v. die algemene samelewing, kultuur, wetenskap en die bevindings daarvan, soos dit mettertyd verder ontplooi.

Ons voorneme is dus om waarheid in die lewe self te vind deur ‘n direkte waarneming wat die liggaam en sintuiglike insluit. Ons spiritualiteit is aards en gerig op die hier en nou.

Vertrekpunt 5

Ons waardeer die leringe van alle leermeesters, van alle tye, mits hulle ‘n bydrae lewer tot ons verbondenheid en eenheid met die misterie van lewe en sterwe.

Ons voorneme is om nie ons uitgangspunte aan ander op te dring nie. Ons is vasbeslote om niemand, selfs nie ons kinders nie, te dwing om ons oortuigings te aanvaar nie – hetsy deur gesag, indoktrinasie of propaganda. Ons het eerbied vir ander se reg om anders te glo en anders te leef as ons. Sover dit binne ons vermoë is, sal ons deur ons voorbeeld en deur liefdevolle dialoog poog om mense wat daarna vra by te staan om ‘n pad van singewing, wysheid, liefde, vergifnis en nederigheid na te volg.

Vertrekpunt 6

Ons lê klem op die kwaliteit van ons praktiese lewe, individueel en sosiaal, en neem krities-konstruktief deel aan alle sosiale prosesse in die gemeenskap. Ons kies die goeie en teen die kwade, en besef dat ons verantwoordelik is vir die gevolge van ons keuses.

Ons voorneme is dus om ons eie motiewe te ondersoek en aan die liefde te toets ten einde gemeenskap te bevorder.

Vertrekpunt 7

Ons weet dat hierdie oortuigings binne ons medemenslikheid uitgeleef word. Liefde en vriendelikheid bind ons saam. Ons weet dat alle mense, net soos ons, gelukkig wil wees en lyding wil vermy.

Ons voorneme is dus om die lewe in gemeenskaplikheid en met vreugde in vrede te vier, en nie ons oë vir lyding te sluit nie, maar ons vir die verligting daarvan te beywer.