Knus is nie Koel nie

Hallo Renaissancers

Die yskoue wind loei vandag in my ore soos wat dit die hoendervleis op my vel kom neersit. Die koue front word op hierdie vlakte ysig blou oor mens en dier staan gemaak.

Wind was vir jare in my kop ‘n gedugte vyand – totdat ek eendag ‘n dokter hoor sê het dat ‘n mens nooit te knus moet wees as jy lank wil leef en jonk wil bly nie. Daar is glo ‘n hele paar ensieme wat hulle werk begin doen sodra ‘n mens koel slaap en effens honger ly. Net effens. Ons lywe moet vir oorlewing begin veg, dan word ons sterk. Dit is natuurlik in my leke-taal gestel.

Spiritualiteit is een van die arenas waarbinne ons knusheid soek. Knusheid vir die siel. Juis daarom wend ons ons na idees, slagspreuke en filosofiese denkrigtings wat vlagies warm wind om ons harte vou. Wanneer ons dit herhaaldelik lees waai die wind al hoe warmer en word ons daarin toegevou. Ingenestel in hoe ons die lewe sien. Kort voor lank verkies ons die bekende warm winde van bekende wyshede bo die koue bries wat ‘n nuwe dwarswind-slagspreuk bring. Die spirituele wêreld leen hom daartoe dat die Pied Piper (ek kies met opset die Engels omdat die Afrikaans in hierdie geval kras op die oor gaan val) sy fluit vir jare kan blaas terwyl ons in groot getalle agterna kom. Die deuntjie raak so bekend dat ons nie die gebrek aan nuwe note wat die akkoorde voller kan maak, hoor nie.

Nadat ek vir jare deur die konteks van my kinderjare se kerklewe gebreinspoel is, het ek my ore begin uitleen aan ‘n koor van ander stemme. Die nuwe stemme het sommige van die vals note in my kinderjare se kerkkoor ontmasker, en my dinge laat hoor wat ek nooit geweet het nie. Ou insigte het plek gemaak vir nuwes. Elke stem het my verwysingsraamwerk aangevul soos wat mens ‘n plat, naïewe prentjie tot ‘n skilderwerk met diepte omvorm. Laag vir laag. Kwashaal na kwashaal. Daar is net een vereiste – die kleure moet met ander aangevul word sodat dit vermeng tot iets wat selfs dieper as ‘n tersiêre kleur is. Die akkoorde moet soveel  interessante note bevat dat dit nie meer ‘n naam het nie en jy slegs die note op die balk kan plaas sonder om daaraan ‘n akkoordnaam te gee. Dit moet getuig van die verwikkeldheid van die lewe sonder om die lewe moeiliker te maak – soos wat meesterlike en verwikkelde musiek jou in verwondering laat sonder om kakofonies op die oor te val. Moeilik om te bemeester, maar jou hart swem gemaklik daarin.

Gou het ek egter besef dat ek my gunsteling stemme te hoog aanslaan omdat ek vergeet dat elke stem vanuit ‘n bepaalde ideologie met my praat. Ek het selfs ontdek dat verskeie van my gunsteling stemme vanuit soortgelyke ideologiëe praat. Die nuwe breinpaadjies, wat aanvanklik vreemd gevoel het, het spoedig weer bekend geword en elke keer wanneer ek na hierdie sprekers geluister het, het die knusheid al hoe warmer om my hart gevou. Ek was weer tuis in ‘n huis waarvan ek die deur mooi op knip geplaas en die vensters toegetrek het. Gelukkig was ek nie meer ‘n kind nie. In my was daar ‘n stem wat nie wou saampraat nie. Ek kon hoor dat daar note is wat ontbreek. Ek kon sien dat die skildery nog werk nodig het en dat dit besig was om ‘n produksielyn te word. Baie skilderye het uit die spirituele fabriek op ‘n voerband na my toe aangekom en hulle almal het min of meer dieselfde gelyk. My sogenaamde vrydenkende ghoeroes was maar weer net almal in ‘n herkenbare ideologie vasgevang. Hierdie keer het die knusheid my benoud gemaak en het ek besluit om die deur en die vensters oop te maak sodat nuwe, vars, ongemaklik-koue briesies my huis kon binnewaai.

Ek het besluit om vir myself te dink, en nie ‘n naprater te wees nie. My eie taal te praat en nie die lingo van ‘n spesifieke spirituele stroom nie. Ek het gekies om baie krities te lees en te luister sodat geen slogan of mooi ideologie my so sal betower met die bekende en poëtiese taal dat ek die vals note nie kan hoor nie. Dit is ‘n taak wat met groot omsigtigheid gedoen moet word. Die gevaar is dat ek soos ‘n boek redigeerder onnodig fout mag vind net omdat ek die rooi pen in die hand geneem het. Ek moet my ego goed in toom hou en werklik van alle dissiplines se insette gebruik maak om dit wat ek lees of hoor te kan fynkam vir geyktheid, asook blantante onjuisthede. Eenvoudig gestel; ‘n mens moet na alle spirituele insette luister met die wete dat dit onbewese ideologie is wat aan jou bedien word, en dat dit ‘n warm wind om jou hart laat warrel vanweë die aard van die taal en die gevoel wat dit by jou wek. Om nie te praat van die impak wat die herhaling op jou brein het nie. Nadat ‘n mens enkele boeke uit dieselfde spirituele stroom gelees het sal jy soos daardie skrywers begin dink en praat, en van daar af sal jou perspektief vasval, fikseer en ‘n kopknikkende inskiklikheid word sodra jy hoor wat jy alreeds glo. Die kuns is om ‘n voorliefde te ontwikkel vir ‘n huis met oop vensters waardeur die wind te koel vir knus gerief inwaai. Dit moet lekker word om goed te hoor wat jou laat frons. Dit is dan wanneer ons begin stilsit en dink. Naslaan, navors, nog invalshoeke en selfs wetenskaplike insette bysleep om seker te maak dat ons insig wyer en dieper word.

Die spirituele wêreld is soms te wollerig en die komberse te veel, te groot en te sag. Omdat die oorsprong daarvan dikwels in die wysheidtekste van die antieke beskawings lê, is dit ook nie altyd in pas met die wetenskap nie. Dit is veral steurend wanneer spirituele ghoeroes wilde spronge in logika maak in arenas van die neurowetenskap. Dis een ding om in nederige erkentlikheid van jou subjektiwiteit te spekuleer, dis ‘n ander ding om selfversekerd aannames te maak terwyl jy nie eens daarvan bewus is dat daar alreeds wetenskaplike data is wat jou aannames verkeerd bewys het nie.

Om balans te vind in ‘n mens se denkwêreld is dit wonderlik om die antieke wêreld met die ons s’n te laat dans. Ons kan by mekaar passies leer. Ek probeer om drie dinge te laat saamwerk – die mooi van die antieke wysheidsgeskrifte, die kennis van die eietydse wetenskap, en… my eie aanvoeling. Ek lees en luister. Dan sit ek al die boeke neer. Ek maak Youtube toe en ek begin om vir myself te dink. Uiteindelik is ek op my eie reis en is die heel grootste verantwoordelikheid wat ek het net dit; om nooit weer soos ‘n kind in die kerk te wees nie, maar ‘n volwassene wat met al my medereisigers saamdink en saampraat, maar met niemand hoef saam te stem nie. Ek waak behoorlik daarteen om nadat ek my kinderdae se breinspoeling ontkom het, weer in ‘n neergelegde ideologie vas te val. Ek is lugtig vir enige spirituele stroom met ‘n oorbekende naam, want goed wat lank aan ‘n naam dra is dikwels vasgevang in die knusheid van ‘n kombersie en is begaan met ‘n identiteit. Daar ontwikkel ‘n taal en ‘n manier van kyk, wat verhoed dat ek vir myself bly dink. En dít, liewe vriende, is die hoogste goed – luister wyd en kyk vêr, maar dink vir julleself. Dis die verskil tussen ‘n reisiger en ‘n muis wat in kultus-styl agter die Pied Piper aanstap.

Geniet julle reis terdeë. Ek hoor graag wat julle ontdek sonder dat julle ander mense hoef aan te haal. En as jou gedagtes ‘n onbekende koue briesie oor my kop waai, soveel te beter vir my.

Renaissance is ‘n gemeenskap van reisigers wat gekies het om nie een stroom te volg nie, en dit maak hierdie gemeenskap lewendig, ongemaklik, en baie interessant. Die koue winde van ‘n verskeidenheid perspektiewe wat nie aan ‘n geskrif en ‘n neergelegde kommunale geloofsbelydenis onderworpe is nie, is die rede waarom ons sal voortgaan om te groei, mooi musiek te skryf en pragtige skilderye voort te bring. Ons moet ons indiwiduele taal, uitdrukkings, beskrywings en belewenisse koester en daarteen waak om mekaar klakkeloos na te praat of enige denkrigting onkrities te volg. Ons moet die behoefte daaraan om dinge te hoor wat ons laat frons bly koester, want daar is niks so wonderlik soos die ongemak van ‘n stelling of tesis wat vreemd op ‘n mens se ore val nie. Dit skud die stof uit die kussings waarop ons gaan lê om te rus in diep tevredenheid met die lewe se mooie naspeurlikhede, sowel as die ontoeganklikhede.

My wens vir ons is om gemaklik te wees in die koel bries wat tergend, tog vriendelik pluk.

Groete en vrede

Philip

5 Responses

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui