Hallo Almal,

Dr. Piet Muller bied vir ons aan, “Die Gelykenis van die Mosterdsaad”:
https://youtu.be/GkTGeIqvFXA

Vir die wat nie ingeskakel is op ons WhatsApp Groep nie, hier is onlangse belangrike boodskappe van Philip:

Hallo Renaissance Vriende

Ek hoop dit gaan goed met elkeen van julle? Indien jy ‘n moeilike tyd beleef, laat my gerus weet indien jy ‘n oor of enige bystand nodig het.
Goeie nuus vandag is dat ons op 8 Augustus om 9:00 ons byeenkomste in die kapel by Safari hervat, met al die nodige veiligheidsmaatreëls in plek.
Ek wil ook graag vra dat die belangegroepe ons asseblief sal laat weet wanneer julle aktiwiteite weer gaan afskop, sodat ons die inligting oor al die groepe op ons webtuiste kan opdateer.
Ek is baie bly om te kan sê dat (Prof.) Kobus Krüger vandag ingestem het om ook ‘n spreker by Renaissance te wees, en wel vanuit die Boeddhisme as invalshoek.
Ons wil baie graag ‘n sprekers-korps saamstel wat aan ons visie voldoen, naamlik om vanuit talle invalshoeke bydraes te lewer.

Die spreekbeurte rooster tans:
8 Augustus – Philip Liebenberg
15 Augustus – Kobus Krüger
22 Augustus – Hansie Wolmarans
29 Augustus – Philip Liebenberg

Ons het besluit om die formaat van ons byeenkomste presies te behou soos wat Abel dit ontwikkel het, naamlik musiek, stilte, musiek gevolg deur die praatjie van die dag.
Ons wil graag toesien dat die ervaring by ons byeenkomste deurlopend dieselfde bekende stempel sal dra waarvoor Renaissance bekend is, en het ook gevra dat die sprekers hulle hul inhoud so sal plooi dat mense vanuit verskillende hoeke daarby aanklank sal vind. Ons fokus graag op dit wat universeel is, selfs al kom ons benaderings vanuit verskillende wysheidsliteratuur.

Ons sprekers het die invalshoeke uitgespel waaruit hulle praat:

Philip Liebenberg

Ek was ‘n pastoor van die AGS. Sedert 2002 stap ek ‘n pad van teologiese soeke wat daartoe gelei het dat ek van die Christendom af weggeswenk het. Ek beskou myself as a-godsdienstig en non-teïsties. Ek aanvaar ewolusie as die wyse waarop die heelal tot stand gekom het, en steeds ontwikkel. Die Oorsprong is vir my ‘n misterie en ek probeer dit nie uitpluis nie. Ek leef bloot met groot ontsag vir die lewe.

My inspirasie kom uit hedendaagse bronne, soos die sielkunde, wetenskap, filosofie, etiek, emosionele intelligensie, common sense en mense. My boodskappe is sekulêr. Dit wentel dus nie om ‘n konneksie met ‘n onsigbare opperwese, ‘n geesteswêreld en ‘n lewe na die dood nie. My praatjies dien as bemagtiging vir die alledaagse bestaan. Vir my is ‘n sinvolle lewe ‘n lewe wat met deernis en ontsag geleef word. My enigste spirituele ritueel is stilte. Die doel daarvan is nie om met iets verhewe kontak te maak nie, maar om by my eie kalmte en balans uit te kom te midde van alles wat my dae van my vereis.

Ek fokus in my praatjies op ons saamleef met ons eie binneste, ons medemens, die planeet, diere ensovoorts. Ek mag per uitsondering gebruik maak van antieke geskrifte, maar uit keuse doen ek dit selde. Die rede daarvoor? Dit is vir my soos wanneer ek my ouma se resepteboek gebruik – ek moet te veel bestanddele wat ongesond is met ander vervang. Die botter moet uit, die fyn wit meel moet uit. Dan sit ek nog ‘n klomp sade en neute by. Al wat eintlik van my ouma se resep oorbly is die water en die eiers. Ek kan mos nie daardie koek bak en vir mense vertel dis my ouma se resep nie. So moet ‘n mens te veel van die bybelskrywer se bedoelings weggooi en met jou eie, nuwe insigte vervang. Op die ou einde kan jy maar jou eie storie skryf, want dit wat jy van die storie maak is glad nie meer wat die by bybelskrywer met die storie probeer sê het nie.
Ek lees my ouma se resepteboek vir interessantheid, ek bak nie daaruit nie. Ek lees die Bybel ook vir interessantheid, ek kry nie my resep vir die lewe daaruit nie.

Gert Janse van Rensburg

Persoonlik was ek ‘n Nederduits Hervormde dominee en het toe Renaissance begin in 2004. Ek het gaan draai in Kanada by die United Church of Canada en toe Skotland toe in die Church of Scotland.
My invalshoek is Progressive Christianity.
Ek het myself ingegrawe in Aramees. Die taal van Jesus en ontleed sy teachings in diepte.

Hansie Wolmarans

Ek staan in die tradisie van die progressiewe Christendom. Ek het afskeid geneem van alle dogmas, maar gebruik tradisionele begrippe soos die 3-eenheid, en gebed, maar vul dit met nuwe inhoud. As basisdokument van die Christendom, asook van die Westerse beskawing, neem ek die Bybel ernstig, maar nie letterlik nie. Ek verkies ‘n skriflesing, maar maak ook van ander tekste gebruik. Vir my het spiritualiteit drie fasette: om in vrede met jouself te leef (“reis na binne”), maar ook om erns te maak met sosiale geregtigheid en ons verhouding met die natuur. Ek maak erns met wetenskaplike resultate en aanvaar ewolusie as ‘n feit. Ek is ‘n non-teïs. Ek neem die beste m.b.t. musiek, en teologie uit my Christelike verlede en vernuwe dit volgens my eie ervaring en insigte. Teologies vind ek aanklank by mense soos Lloyd Geering, Don Cupitt, John Shelby Spong, Richard Holloway en Karen Armstrong.

Piet Muller

My uitgangspunt lê in die ontmoeting tussen vroeë Christendom en Boeddhisme. My praatjie vir Sondag gaan juis oor hoe Jesus en Boeddha albei die metafoor van die mosterdsaad gebruik. Met Jesus bedoel ek die historiese Jesus en met Boeddha dieselfde, m.a.w. nie Mahayana Boeddhisme nie, maar Theravada plus Zen. Ook glo ek dat godsdiens en spiritualiteit nie ‘n ortodoksie is nie maar ‘n ortopraksie. Ek reken dat mense hulp nodig het met maniere hoe om hul ortopraksie te beoefen, en daardeur ook iets van die mistieke te ervaar. Daarin munt die Boeddhisme juis uit.

Kobus Krüger

Kobus se forte is Boeddhisme. Hy sal meer oor sy uitgangspunt verduidelik wanneer hy met ons kom praat op 15 Augustus.

Lekker dag vir almal
Groete
Philip

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui