Hallo Almal,

Hier is my inligting
Ek leef saam met Johan Swart, my lewensmaat van die afgelope negentien jaar. Julle weet hoe ek lyk, maar hier is hy ook nou…
www.renaissancegem.co.za/nuusbrief/philip-en-johan.jpg

Ouderdom
Ek is 59 (12 Junie 1962)
Johan 57 (25 Oktober 1964)

Studies
Ek het teologie studeer.
Johan ook.

Beroepslewe
Ons beide was AGS pastore van 1988 tot 2002.
Johan is sedert 2002 ‘n finansiële adviseur met sy eie besigheid. Hy boer deeltyds op baie klein skaal met beeste en skape.
Hy het in 2002 besluit dat hy nooit weer wil preek of bedien nie en hou vandag steeds by daardie besluit. Hy voel dat dit vir hom ‘n afgeslote hoofstuk in sy lewe is.

My bedieningspad het so geloop:
1988-1991 Bapsfontein
1991-1995 Riebeeckstad, Welkom
1995-2019 Melville, Johannesburg

Die gemeente in Melville is deur my en my gewese vrou gestig en was gefokus op kunstenaars. Ek en my gewese vrou is in 1998 geskei. In 2002, toe ek uit die kas klim, het ek en my gemeente ons losgemaak van die AGS. Daarvandaan het ons as Die Kapel bekend gestaan.
My teologiese ondersoekendheid het my teen 2019 by die plek gelaat waar ek myself nie meer as christen identifiseer het nie. Daar was van 174 lede slegs 22 gemeentelede oor omdat die meerderheid nie met my saamgestem het daaroor dat Jesus nie God was nie, en ook nie ‘n offerdood vir ons sonde gesterf het nie.
Ek en die 22 persone het ons in ‘n koffiewinkel gaan tuis maak vir gesprekke op Sondagmiddae. Ons nuwe naam was Candid Conversations.

Dit is tóé dat Abel my gevra het om ‘n tak van Renaissance in Johannesburg te begin. Van daardie 22 persone het ‘n hele paar emigreer. Die inperking het ingeskop agt weke nadat ons met byeenkomste in Houghton begin het. Ons is dus in ons geboortefase kortgeknip.
Daar is sewe van ons oor, en saam met drie nuwelinge is ons tien siele nou deel van Renaissance Pretoria. Ons voer ons gesprekke op Woensdagaande op Zoom, maar vanaf September gaan dit in Tobie Cronjé se huis in Aucklandpark geskied.
Sedert 2019 bevestig ek huwelike vir ‘n inkomste.

Dit moet vermeld word dat ek inderdaad die rol van huisman speel. Alles van kos maak, bed opmaak, inkopies doen, aan die kant maak, huis versier, gasheer speel vir gaste, klere aankoop, apteektrippies vir ons chroniese medikasie. Alles wat ons ma’s in die ou dae gedoen het. Daarby versorg ek die skaaplammers, met besondere klem op die hanslam wat ek die afgelope vyf maande grootmaak. My liefde vir diere is baie intens. Dit is besig om my in die rigting van ‘n vegetariese dieet te por, alhoewel ek nog baie hoender eet en glo dat ek my vitamine B moet kry uit ‘n stukkie beeshaas so dan en wan. Ek het geen etiese probleem met vleiseters nie.

Stokperdjies / tydverdrywe
Teater, kunsflieks, kreatief huis maak in wit en met verweerde en natuurlike materiale, kos, honde, akademiese artikels lees, Youtube deurkruis vir leersame video’s, uiteet, koffie-kletse met vriende, tokkel op die klavier in AGS-styl, portretsketse met houtskool teken, liefdadigheidswinkels deursoek vir goeters wat mens in die huis kan gebruik (ek is versot op bakkies en borde wat nie by mekaar pas nie en juis dáárom by mekaar pas).

Johan se liefdes is beeste en rose. Hy speel met kruising van rasse om ‘n lekker bont kudde te hê, en hy het al meer as 300 roosbome met steggies gekweek op die plaas. Hy is ook ‘n rugby man en hou daarvan om sy geboorteland, Namibië, met sy Jeep te verken. Hy bak die lekkerste pannekoek in die land en braai graag skaapribbetjie. Hy beskik dus wel oor twee voortreflike huishoudelike vaardighede.

Hoe lank is ek deel van Renaissance?
Abel het my in November 2019 amptelik tot kollega verklaar.

Godsdienstige agtergrond
Ek het in die Gereformeerde Kerk grootgeword tot op 9-jarige ouderdom, waarna my ouers die Dopperhemel vir die AGS verruil het.
Johan het tot in Matriek as Dopper grootgeword en daarna by die Volle Evangelie Kerk aangesluit. Na sy studies het hy ‘n kapelaan in die Weermag geword onder die AGS.

Huidige spirituele beskrywing
Ek glo in deernisvolle omgang met alles en almal en het diep ontsag vir die lewe en wat ookal die oorsprong daarvan mag wees. Eenvoud is vir my mooi en ek probeer om nie die aarde en sy bronne te misbruik nie. Materiële vergenoegdheid is vir my baie belangrik. My enigste ‘spirituele’ ritueel is stilte, maar ek beskou my hele lewe as ‘spiritueel’. Daar is nie vir my ‘n skeiding tussen geestelike dinge en aardse dinge nie. Die lewe is vir my heilig. Mens kan ‘spirituele’ rituele ‘onheilig’ maak met ego-truuks, en jy kan honde-kosgee heilig maak deur dit met jou hele hart te doen.

Johan is ook nie meer ‘n christen nie, maar beskou homself steeds as iemand wat glo daar is ‘n God. Dis egter ‘n God wat nie deur ons beskryf of verstaan kan word, of wat ingryp in die gang van sake nie. Hy sê altyd vir sy boere-bure dat God nie reën gee nie, die natuur bring reën. As God reën gegee het, was hy wreed. Kyk maar na die droogte in die Karoo. Daar is baie geknakte boere daar. Ek beleef Johan as ‘n on-Bybelse/nie-Bybelse soort teïs.

Wat verlang ek/ons van Renaissance?
Om ‘n plek te wees waar ons die ruimte het om na mense uit verskeie denkrigtings te luister, met openheid, sonder afwysing, sodat ons deurentyd ons eie denke verruim en aan verskuiwings blootstel. Dit is vir my belangrik dat ons wel na die ontologie en epistomologie van ons oortuigings sal kyk.  Daar is oortuigings wat nie met die werklikheid ooreenstem nie, nie deurdink is nie, maar gebou word op antieke aannames. Metafore is mooi en stories ook. Dit vertel dikwels meer as wat analitiese beredenerings kan vertel, maar stories kan ook oor die werklikheid jok indien hulle letterlik geglo word. Dan word dit dogma wat voorskryf, pleks van beelde wat probeer uitdrukking gee. Ons kan gerus by die dogma van alle godsdienste verby beweeg. Vir my is godsdienstige dogmatiesheid nie vooruitgang nie, maar agteruitgang.
Ek sien Renaissance as ‘n beweging ná godsdienstigheid. Ons leef in die na-gloed van godsdiens, en selfs dalk liefs al buite die na-gloed. Post-post godsdiens.

Lekker naweek mense!
Groete
Philip
philipl@vodamail.co.za
082 468 1545

One Response

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui