Hallo Almal,

Vir die wat nie ingeskakel is op ons WhatsApp Groep nie, hier is onlangse belangrike boodskappe van Philip:

Hallo Renaissance Vriende

Ons het besluit om die formaat van ons byeenkomste presies te behou soos wat Abel dit ontwikkel het, naamlik musiek, stilte, musiek, gevolg deur die praatjie van die dag.
Ons wil graag toesien dat die ervaring by ons byeenkomste deurlopend dieselfde bekende stempel sal dra waarvoor Renaissance bekend is, en het ook gevra dat alle gassprekers hul inhoud so sal plooi dat mense vanuit verskillende hoeke daarby aanklank sal vind. Ons fokus graag op dit wat universeel is, selfs al kom ons benaderings vanuit verskillende wysheidsliterature en velde in die wetenskap.

Ons sprekers het die invalshoeke uitgespel waaruit hulle praat:

Philip Liebenberg

Ek was ‘n pastoor van die AGS. Sedert 2002 stap ek ‘n pad van teologiese soeke wat daartoe gelei het dat ek van die Christendom af weggeswenk het. Ek beskou myself as a-godsdienstig en non-teïsties. Ek aanvaar ewolusie as die wyse waarop die heelal tot stand gekom het, en steeds ontwikkel. Die Oorsprong is vir my ‘n misterie en ek probeer dit nie uitpluis nie. Ek leef bloot met groot ontsag vir die lewe.

My inspirasie kom uit hedendaagse bronne, soos die sielkunde, wetenskap, filosofie, etiek, emosionele intelligensie, common sense en mense. My praatjies dien as bemagtiging vir die alledaagse bestaan, asook ‘n verkenning van die herkoms van lewenskouings en geloofsoortuigings. Dit is belangrik om te weet waar ons idees vandaan kom. Vir my is ‘n sinvolle lewe ‘n lewe wat met kritiese verkenning van my eie oortuigings, deernis en ontsag geleef word.

Ek fokus in my praatjies op ons saamleef met ons eie oortuigings se herkoms en boublokke, ons binneste, ons medemens, die planeet, diere ensovoorts. Ek mag per uitsondering gebruik maak van antieke geskrifte, maar uit keuse doen ek dit selde. Die rede daarvoor? Dit is vir my soos wanneer ek my ouma se resepteboek gebruik – ek moet te veel bestanddele wat ongesond is met ander vervang. Die botter moet uit, die fyn wit meel moet uit. Dan sit ek nog ‘n klomp sade en neute by. Al wat eintlik van my ouma se resep oorbly is die water en die eiers. Ek kan mos nie daardie koek bak en vir mense vertel dis my ouma se resep nie. So moet ‘n mens te veel van die bybelskrywer se bedoelings weggooi en met jou eie, nuwe insigte vervang. Op die ou einde kan jy maar jou eie storie skryf, want dit wat jy van die storie maak is glad nie meer wat die bybelskrywer met die storie probeer sê het nie.
Ek lees my ouma se resepteboek vir interessantheid, ek bak nie daaruit nie. Ek lees die Bybel ook vir interessantheid, vir dit wat universele wysheid mag inhou, en veral vir insig in waar ons oortuigings vandaan kom, ek kry nie my resep vir die lewe daaruit nie.

Lekker dag vir almal
Groete
Philip

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui